And in Die Beeld, originally posted here
Crazy in Love: Onheil saam met die liefde


Crazy in Love
Barney Simon, Markteater, Newtown
Met die aanhoor van die titel is dit duidelik dat dié stuk, wat in 2013 op die Grahamstadse kunstefees gedebuteer het en ook in Amsterdam ’n draai gemaak het, geen gewone liefdesverhaal is nie.
En die weergawe van die liedjie “Somewhere Over the Mountain” wanneer die ligte doof, bevestig die gevoel van onheil wat lê en wag. Terwyl jy lag.
Dit begin met ’n flambojante Leon (Andrew Buckland) wat die gehoor gou laat skater met sy manewales en maniertjies om sy sin met almal te kry – veral met vroue.
Wanneer hy egter op ’n dag alleen voor die kansel staan en besef Ruth, die groot liefde in sy lewe, het gevlug en hom alleen met hul baba gelos, verander alles.
Hy sweer hy sal haar vind . . . en so begin ’n soektog oor die lengte en breedte van die land wat later ’n diep obsessie word.
Op elke plek waar hy haar nie kry nie, tatoeëer hy die naam van die dorp iewers op sy lyf.
Dis 15 jaar later en sy dogter, Ginny (Liezl de Kock), is ’n tiener. Sy soek saam na haar ma en is bereid om te baklei vir haar pa. Sal selfs handgemeen raak as dit moet. Maar soos sy ouer word, kom daar ook ’n ander soeke – ’n soeke na ’n eie identiteit, weg van haar dronk, vulgêre pa, wie se vel lankal ’n padkaart van sinlose tatoes geword het.
Soos die plek op sy lyf minder word vir die volgende tatoe, spiraal die verhouding tussen pa en dogter en elkeen se eie soeke al hoe vinniger buite beheer en stuur dit af op iets waarvoor jy die hele tyd asem ophou.
Buckland is briljant. Hy is steeds die meester van fisieke spel en selfs in die klein, intieme gebare oortuig hy die hele tyd.
Daar is duidelik ’n band tussen hom en De Kock, wat net so sterk is in haar rol. Dit is veral hoe sy ontwikkel van die loslittige tiener tot ’n soekende jong vrou en uiteindelik een wat groot besluite moet neem, wat jou bybly.
Met ’n mengsel van visuele en fisieke spel, waarby die ongelooflike slim stel van Jayne Batzofin ingetrek word as nog ’n sterk karakter op die verhoog, hou die regisseur Rob Murray jou totaal vasgevang vir anderhalf uur.
Crazy in Love is geïnspireer deur ’n hoofstuk in John Irving se boek Until I Find You. Daardie effense malheid wat skuil in die meeste van Irving se karakters kom sterk deur in dié stuk. En hulle sorg dat jy weer deeglik onder die indruk kom van die waansin van die liefde.
Die groot vraag is of Leon en Ginny sal kan wegdraai van die rampspoedige pad waarop die liefde hulle laat beland het.
Al voel dit of daar effens kortpad gekies is met die einde van dié kragtige stuk, bly dit ’n treffende werk wat sterk aanbeveel kan word. Briljante teater.
Leave a Reply